Monday, January 30, 2012

dat ek julle eers hierdie stuk vertel...

Ekt in een van my eerste blog-inskrywings van Sanna gepraat, nou ja die einste en enigste is nog steeds by my en sy praat die mooiste- Ceres-Afrikaans.

So kom dit dat 2 van haar 3 seuns "tot trou kom" sê sy (met 'n sagte brei in die "trou"...)
Een trou 18de Feb en ander ene Maart.
Ek bied toe in November 2011 aan om vir haar 'n "mother-of-the-groom" pakkie te koop as die tyd nader kom.

wel, so deur die werks-verandering en Old-Mac Daddy- weggaan, kom die tyd toe nou vinnig nader.
Ek en sy spreek af om mekaar in Tygervallei (herboue/stofbelaaide/worksite wat dit al vir 3 maande is) te kry voor die Woolworths- ingang.
Sy sê sy weet nie waar dit is nie, maar sy sal vra.
( Eks gek oor haar durf-gees! )


Sanna is heel aan't giggel vir die uitstappie.
Sy sê dat sy nie Tygervallei ken nie en dat sy gaan verdwaal..

Ons stap tussen die klere winkels deur en ek wens dat ek 'n band-opnemer by my gehad het vir haar sê-goed en haar uitdrukkings soos wat sy die prys-etikette beetkry en interpreteer.

my gusteling is seker: "nou ja kyk Maria waar gaat die ene se prys heen!"
Sy is verontwaardig dat Edgars R299 vir 'n broek kan vra.. . en skoon lighoofdig
nadat sy die Jo Borkett- romp van die hanger af het.
Ek beduie na die "sale" hanger, maar daar is niks in haar nommer-grootte nie.

Haar bui wentel tussen stomme verbasing tot lawwe sagte laggies tot pure verbystering.

'n Uur later besluit ons dat Tygervallei met sy goudglinster-gryses (dit is nou die winkel-gangers wat julle nooit sien nie, want jul werk)
nie vir ons is nie en ons skiet af Cape Gate toe.

Sanna is sommer dadelik verlig.
Sy herken 'n paar winkels.
"Ja, JET het mooi goed" sê sy,
Ek mik na "exact!" wat ook deel van die Foshini groep is ( ek sien naturlik nou sulke goed raak )


en daar kies Sanna so 'n stylvolle toppie, mooi cream (nie 'n primêre kleur soos ek verwag het nie) en dit het die mooiste effe-room lintjie om die middel.
stunning.

ek gryp 'n romp en ons 2 is aanpaskamers toe. dit is soveel pret!
sy sê van langs die aantrekhokkie-afskorting:
"Maria moet nou nie vir Maria uitsit nie, en Maria begin hoeka more met nuwe job, so ons moet klaarmaak dat Maria kan gaan rus"

Ek sê; sy moet net fokus op die aanpas en kyk of alles mooi sit.
Ek herinner haar aan ons begroting en dat indien sy die toppie neem, daar weinig geld oor sal wees vir 'n romp.
Sy verstaan.
Soos 'n ware mode-"madam" kies sy die mooi toppie (eks "over the moon"!)
en ek neem die werksromp vir myself ( in 'n oomblik van kameraderie; die saamkoop-gees )

Ons huppel motor toe, lus vir McDonalds.
oppad McD's toe belowe ons plegtig dat McDonalds weggooi kos is en dit net 1 keer per week (hoogstens) geëet mag word,

en te dierbaar sê sy:
"ja, dit help nie vir my maag nie né?"
en sy vryf oor haar ronde bultjie asof sy 3 maande swanger is, my dierbare Sanna wat seker al naby 50 is en 3 seuns in die wêreld gebring het en ook net hoop dat hul huwelike geseënd sal wees.

Ons is maar almal dieselfde,
bekoor deur 'n mooi kledingstuk, ons binneste getoë in ware omgee vir ons geliefdes.
x Cape Gate was nog nooit soveel pret nie.x

1 comment:

  1. dit was nou 'n lieflike stukkie om te lees en laat my binneste glimlag :-)
    Ronel

    ReplyDelete